Friday 7 September 2012

Al wat kort is 'n tiara

Hierdie haarstyl het nogal my oog gevang...


Vir nog foto's wat ek inspirerend gevind het met die reël van die troue, gooi 'n oog oor my Pinterest-bord: http://pinterest.com/elmariebc/the-big-day/

Tyd wag vir niemand nie

Die tyd vlieg verby teen 'n geweldige spoed en oor twee weke is die groot dag - ek kan dit nie glo nie! Intussen is (meeste van) die kaartjies reeds gepos en behalwe vir 'n paar vriende wat naby bly het al die mense wat vir ons belangrik is reeds hul uitnodigings gekry. Daar is egter nog 'n paar kaartjies wat gemaak moet word, maar die tyd, o wee! Omdat ek dit self maak, is die tyd besig om my in te haal! 

En natuurlik is ek mos maar altyd bekommerd oor wat die mense gaan dink en dus stres ek oor die laaste mensies en of hulle gaan voel ek nooi hulle net as 'n nagedagtenis - wat glad nie waar is nie!

So 'n maand of wat gelede het ek nog in my mou gelag oor mense wat sê troues is stresvol - alles is dan gereël - waar is die stres? Nou weet ek wat hulle bedoel het. Dis die klein jakkalsies wat nou kop uitsteek wat die meeste stres veroorsaak - die verloop van die program, die maak van al die klein versierings wat daardie ekstra skop aan die saal sal gee en mense sal laat spesiaal voel, die skryf van persoonlike bedankings aan die mense na aan my, die opstel van die "playlists" vir die musiek, en en en... 

Dan is daar die besluite wat nog geneem moet word wat eintlik niemand anders as myself beïnvloed nie, en almal wat my goed ken sal weet 'n besluit is nie iets wat ek sommer neem as ek dit kan vermy nie! Soos, moet ek my van verander? Is my rok mooi genoeg? Watter juweliersware gaan ek dra? Hoe moet ek my hare dra? 

Maar ek moet erken, sover was dit 'n wonderlike reis vir my gewees en het ek en JanDirk die beplanning grotendeels self hanteer, so op die dag weet ek dat ek kan trots wees op alles wat ons vermag het! En op die ou end is die belangrikste ding om te onthou dat ons lief is vir mekaar en daar is om voor getuies 'n belofte aan mekaar af te lê.

Hou die spasie dop - een van die dae sit ek foto's op van die kombuistee! ;-)


Wednesday 27 June 2012

Nie meer lank nie!

Die tyd vlieg vreeslik vinnig verby en dis al reeds meer as twee maande sedert ek laas geskryf het! Intussen het daar 'n paar dinge gebeur. Die venue is darem uitgesorteer en die gaste sal gelukkig nie in die son hoef te sit nie. Alles is on track vir die groot dag!

Verder is ek en JanDirk die afgelope twee naweke besig om trou-uitnodigings te maak! Dit is naby aan klaar en sal teen volgende week uitgestuur word. Ons is ook van plan om einde Julie vir twee nagte Kaap toe te gaan om my pa se uitnodiging persoonlik vir hom te vat.

Die pre-wedding fotosessie het ook plaasgevind, eers in die studio en toe op 'n treinspoor. En nee, dit is nie 'n ou treinspoor wat nie meer gebruik word nie. Daar het selfs 'n trein verbygekom terwyl ons besig was om die foto's te neem! 


Hier is foto's van die fotosessie. Daar is hordes geneem, maar vir nou, eers net hierdie. En ja, ek weet, dit is 'n bietjie vreemd dat JanDirk op die treinspoor sit en boek lees!


Friday 20 April 2012

Om te trou is nie perdekoop nie

Ek het nog nooit regtig hierdie spreekwoord verstaan nie - alhoewel, ek het ook nog nooit 'n perd probeer koop nie. In elk geval, die troureëlings is goed op dreef, meeste van die besprekings vir die dekor en so aan is afgehandel. 
Eerskomende Saterdag moet ons egter die venue besoek, aangesien die groot tent waaronder die seremonie gehou sou word, die gees gegee het en dus moet ons 'n ander plan maak om die gaste te akkommodeer. Ek wil definitief nie hê dat die gaste in die son moet sit nie! Ek hoop dat dit nie sal nodig wees om van venue te verander nie, want die onthaalarea is perfek!
Gister het ek met 'n skok besef daar is omtrent net vyf maande oor tot die groot dag en ek het inderhaas met 'n gesonde eetplan en oefenprogram begin - sover gaan dit ook goed. Snaaks hoe alles in 'n vrou se lewe op een of ander manier altyd by gewig draai. In elk geval, met so 'n goeie motivering, kan dit net goed gaan. 
Tot volgende keer.


Thursday 8 March 2012

Kreatiewe uitnodigings


Ek het hierdie oulike uitnodiging vir 'n troue op Pinterest raakgeloop. Wys 'n mens net hoe kreatief die regte woorde kan wees!


Tuesday 6 March 2012

Teken ons troudatum aan!

Omdat ons troue oor 'n langnaweek is (en dit ook deesdae vreeslik in die mode is), het ek en JanDirk 'n "save the date" gemaak, sodat almal wat genooi is solank die datum in hul dagboek kan aanteken. As jy genooi is na die troue toe, sou jy 'n e-pos ontvang het met 'n skakel na hierdie blog.

Hierdie blog is ook vir dié van julle wat graag wil deel in die troureëlings en -stories en op hoogte wil bly van die nuutste ontwikkelinge. So as julle vrae het, vra my!

Hier is dan nou die "save the date". Onthou om die datum in jou dagboek aan te teken!