Friday 7 September 2012

Tyd wag vir niemand nie

Die tyd vlieg verby teen 'n geweldige spoed en oor twee weke is die groot dag - ek kan dit nie glo nie! Intussen is (meeste van) die kaartjies reeds gepos en behalwe vir 'n paar vriende wat naby bly het al die mense wat vir ons belangrik is reeds hul uitnodigings gekry. Daar is egter nog 'n paar kaartjies wat gemaak moet word, maar die tyd, o wee! Omdat ek dit self maak, is die tyd besig om my in te haal! 

En natuurlik is ek mos maar altyd bekommerd oor wat die mense gaan dink en dus stres ek oor die laaste mensies en of hulle gaan voel ek nooi hulle net as 'n nagedagtenis - wat glad nie waar is nie!

So 'n maand of wat gelede het ek nog in my mou gelag oor mense wat sê troues is stresvol - alles is dan gereël - waar is die stres? Nou weet ek wat hulle bedoel het. Dis die klein jakkalsies wat nou kop uitsteek wat die meeste stres veroorsaak - die verloop van die program, die maak van al die klein versierings wat daardie ekstra skop aan die saal sal gee en mense sal laat spesiaal voel, die skryf van persoonlike bedankings aan die mense na aan my, die opstel van die "playlists" vir die musiek, en en en... 

Dan is daar die besluite wat nog geneem moet word wat eintlik niemand anders as myself beïnvloed nie, en almal wat my goed ken sal weet 'n besluit is nie iets wat ek sommer neem as ek dit kan vermy nie! Soos, moet ek my van verander? Is my rok mooi genoeg? Watter juweliersware gaan ek dra? Hoe moet ek my hare dra? 

Maar ek moet erken, sover was dit 'n wonderlike reis vir my gewees en het ek en JanDirk die beplanning grotendeels self hanteer, so op die dag weet ek dat ek kan trots wees op alles wat ons vermag het! En op die ou end is die belangrikste ding om te onthou dat ons lief is vir mekaar en daar is om voor getuies 'n belofte aan mekaar af te lê.

Hou die spasie dop - een van die dae sit ek foto's op van die kombuistee! ;-)


No comments:

Post a Comment